Die wêreld se kleinste SLR kamera

Piepklein kamera’s is gewoonlik iets wat jy net by ‘n spioen sal vind, maar deesdae is kleiner altyd beter.  Chinavision spog met hulle nuutste lid van die familie, die wêreld se kleinste kamera wat foto’s, video’s en klankgrepe kan neem.

Foto’s se kwaliteit is 640 x 480 en die kameratjie sluit ‘n gratis 2GB geheuekaartjie in.  Die battery is herlaaibaar met ‘n USB-kabel.

Die kamera is 26 mm x 28 mm en kan sommer om jou nek gedra word.

Instagram wat?

Onlangs het die woord ‘instagram’ nogal gereeld in die media en op die Internet verskyn en baie mense het vir my gevra wat dit is, daarom besluit ek toe om vandag ‘n klein brokkie daaroor te skryf sodat almal weet wat presies Instagram is en wat presies dit doen.

Instagram is ‘n toepassing (app) wat ontwikkel is vir die iPhone en iPod Touch en in Oktober 2010 vrygestel is.  Dit is ‘n gratis toepassing wat jou toelaat om iPhone-foto’s bietjie te redigeer, filters op te sit en dan te deel met die wêreld van Instagram.

Mnr. Mark Zuckerberg, die grootkop agter Facebook, het verlede week op sy Facebook-blad aangekondig dié sosiale netwerk Instagram aangekoop het vir $1 miljard (R7,8miljard).

Instagram, wat in San Francisco gesetel is, spog reeds met 30 miljoen iPhone-gebruikers en is nou ’n week lank op Android-fone beskikbaar, waar dit reeds meer as ’n miljoen gebruikers gelok het.

“Ons dink die feit dat Instagram verbind is met ander dienste buite Facebook maak dit ’n belangrike deel van die ervaring,” het Zuckerberg gesê.

Dit gaan nou baie interessant wees om te sien hoe Instagram nou by Facebook  ingewerk gaan word en of dit maklik sal wees vir alle gebruikers om by dit in te skakel.  Laai gerus Instagram af as jou selfoon dit toelaat en begin foto’s neem.  Dit is altyd vir my interssant hoe ‘n mens goed raaksien wat jy gewoonlik nie sien nie, sodra jy rondloop en iets soek om af te neem (so het ek al my mooiste foto’s geneem).  Hier is ‘n paar van my iPhone en Instagram foto’s:

Volg my op Twitter by @li3zel

‘n Ekstra lens vir jou iPhone!

Apple se iPhone het fotografie met jou selfoon vir altyd verander.  Elke persoon wat met ‘n iPhone in die hand stap, is ‘n fotograaf en daar is selfs uitstallings met foto’s wat net met ‘n iPhone geneem is.  Ek is self ‘n fotograaf en daar gaan beslis nie ‘n dag verby wat ek nie ‘n foto met my iPhone neem nie.  Ek het hierdie week ‘n storie vir Beeld gedoen oor die swak dienslewering in van ons land se informele nedersettings en daar baie treffende foto’s met my iPhone geneem.  Ek weet daar is wel ander selfone wat net sulke mooi foto’s neem en hierdie is bloot net ‘n artikel oor iPhone fotografie omdat ek self ‘n iPhone besit (wel, eintlik meer as een en meer as twee).  Ek is die hele tyd opsoek na nuwe goedjies in Apple se AppStore wat my fotografie nog meer kan bevorder, ek lees berigte en artikels oor nuwe vrystellings en nuwe toevoegings tot die iPhone.

En toe ontdek ek die Olloclip!

Olloclip is ‘n nuwe stukkie tegnologie wat aan die iPhone gekoppel word om nog beter foto’s te neem.  Wanneer jy ‘n Olloclip koop vir sowat $69.99, kry jy 3 verskillende lense by: ‘n wye-hoeklens, ‘n makrolens en ‘n ‘fisheye-lens.  Besoek Olloclip se webwerf hier vir meer inligting.

Hier is ‘n paar foto’s wat ek met my nuwe speelding geneem het:

Skiet beter video’s op jou selfoon

Ek was ‘n baie klein dogtertjie toe ek al begin droom het van ‘n videokamera.  My oupa het ‘n groot JVC videokamera gehad met groot bande waarop dit geneem het en ek het net gedink ‘eendag, gaan ek ook so ‘n kamera hê en ek gaan ook video’s opneem’.

Ek onthou hoe het ons gelag as hy vergeet om sy videokamera af te sit en dan so 10 minute van die gras en sy voete afneem, maar ek moet eerlik sê, nou dat ek ‘n professionele videograaf is, het ek dit al self gedoen!  Ek was vir 8 jaar ‘n videograaf by ‘n produksiehuis wat televisieprogramme vir M-Net, kykNET en DStv gemaak het en daar het ek met verskeie videokamera’s gewerk.  Sommiges was sommer simpel en goedkoop, ander was die beste van die beste en ek het duisende kilometers gereis met die swaar kamera’s op my rug.  Van Sannieshof tot in die Kaap, van Bloemfontein tot in Franschoek, van Hanover tot in Londen.

Vir eers het ek die wêreld van televisie verruil vir die koerant.  Regte egte stories met regte egte mense en hartroerende video’s wat jou hare laat regop staan.  Maar hierdie keer doen ek dinge anders, want by Beeld skiet ek al die video’s met my selfoon.

Selfone (en ja, nie net iPhone’s nie) – is al so ontwikkel dat jy nou nie eers meer ‘n videokameratjie nodig het om mooi (uitsaai-kwaliteit) video’s te skiet nie.  As ek uitgaan op ‘n nuus-storie is ek gewapen met ‘n iPhone in elke broeksak en dit is heerlik om so lig te reis.  Daar is natuurlik sekere goedjies wat jy moet onthou wanneer jy met jou selfoon video’s skiet en ek het ‘n klein wenklysie gemaak (want eintlik ook van toepassing is op videokamera’s).

  1. Hou altyd jou foon in ‘landscape mode’.
  2. Hou jou selfoon met altwee hande vas.
  3. Hou albei jou arms teen jou lyf.
  4. Staan mooi vas op jou voete.
  5. Wees bewus van jou asemhaling – jy is heel moontlik die heel naaste aan jou mikrofoon.
  6. Moenie jou hande rondbeweeg op jou foon nie, die mikrofoon sal die klank optel en jy sal dan net so ‘n skuur-geluid hoor.
  7. ‘n Goeie video bestaan uit 50% klank en 50% video – so dit is belangrik om seker te maak jy vergeet nie van die klank nie.  As die wind waai, kyk of jy iewers kan skuil of verander van rigting sodat die wind nie direk op die mikrofoon waai nie.
  8. Hoe nader jy staan, hoe beter.
  9. Maak altyd seker die ligbron is altyd agter jou.
  10. Skiet eerder in die son OF in die koelte – nooit half in die son en half in die koelte nie.
  11. Hoe meer lig daar is, hoe beter sal die kwaliteit wees.
  12. Wees baie stil en versigtig.

Dit is net ‘n paar wenke, maar dit het baie van Beeld se joernaliste al bietjie gehelp om die kwaliteit van hulle video’s te verbeter.  Wat lekker is van ‘n foon wat mooi video’s kan opneem, is dat jy altyd ‘n videokamera in jou broeksak het – ‘n mens weet nooit wanneer daar iets gebeur wat jy in ‘n video wil vasvang nie.

Lekker moewies maak!

Hoekom ‘n iPhone?

Selfone is so deel van ons lewens soos asemhaal, eet, verkeer en rekenaars en omdat ‘n mens so baie tyd op jou selfoon spandeer, moet jy gelukkig wees met die foon wat amper ‘n verlenging van jou hand is.  Die groot rolspelers in die selfoon-wêreld is: Apple se iPhone, Nokia, Blackberry en Samsung, maar die iPhone en Blackberry is sekerlik die gewildste selfone tans op die Suid-Afrikaanse en wêreld-mark.

Ek self het die eerste generasie iPhone gehad net toe hy uitgekom het, toe die iPhone 3GS, toe die iPhone 4 en nou stap ek rond met my pragtige wit iPhone 4S…. So ja, ek is ‘n iPhone en Apple verslaafde.  In my kantoor is ek wel twee van omrent 20 want nie ‘n Blackberry het nie, so daar moet tog elemente van ‘n Blackberry wees wat gebruikers oorreed om eerder die Blackberry afrit van die selfoon-snelweg te neem, ek sukkel wel nog om dit te verstaan…

Hoekom is ‘n iPhone so fantasties?

Behalwe vir die moderne ontwerp van die iPhone (wat nou ook in wit beskikbaar is) – het die iPhone voordele bo enige ander selfoon.

  • Ek is ‘n fotograaf wat nie ‘n dag kan laat verbygaan sonder om ‘n foto te neem nie en met my iPhone in my broeksak, weet ek dit sal nooit gebeur nie.
  • Die iTunes-winkel spog met duisende programme (sommiges gratis) en die programme is alreeds meer as 25 biljoen keer afgelaai.
  • Jy kan enige programmetjies koop vir jou iPhone en van my gunsteling programme is: Instagram, Camera+, Facebook, Pop Camera, Pinterest, Angry Birds, Snapseed, iMovie, Pages en Keynote.
  • Daar is letterlik ‘n program vir enige iets waaraan jy kan dink.  ‘n Almanak om jou swangerskap te beplan, resepteboeke, reisjoernale en speletjies wat die kinders vir ure sal besig hou.
  • As jy lief is vir lees kan jy die Kindle program aflaai, of selfs Kalahari.com se programmetjie en sommer die ongelooflike Piet Byleveld boek koop en lees.
  • Die iPhone se battery hou ongeveer 18 ure as jy hom baie gebruik, so ek laai myne elke aand voordat ek aan die slaap raak.
  • Met ‘n 16GB, 32GB en 64GB het jy meer as genoeg plek vir jou hele musiek-versameling en as jou motor ‘n AUX het, kan jy sommer jou iPhone daar indruk en net so na al jou iPhone se musiek luister.
  • Ja die iPhone het nie knoppies soos ‘n Blackberry nie, maar na omtrent drie weke is jy so gewoond aan die skerm, jy sal nooit eers die knoppies mis nie.
  • Nog een van my gunsteling programme is die TomTom.  Dit beteken ek het altyd maar altyd ‘n navigasie-stelsel by my, of ek nou met my eie motor ry en of ek vinnig in die kar saam met ‘n mede-verslaggewer moet spring en jaag na ‘n toneel toe – ek weet ons sal altyd by ons bestemming uitkom.
  • Ek was jare lank ‘n kameraoperateur by DStv en M-net en moes duisende kilometers reis en loop met ‘n swaar kamera en driepoot op my rug, maar met die iPhone 4S se ongelooflike skerp video-kwaliteit het ek glad nie meer daardie swaar kamera nodig nie.  Die iPhone 4S skiet video in hoë-definisie en dit is ook die foon wat ons gebruik om al ons Beeld-video’s te skiet.

Die iPhone is maar net ‘n ongelooflike stukkie tegnologie en in my huishouding het elkeen ‘n iPhone.  My pa (58), my ma (54), my boetie (26) en ek (30) – verskillende generasies wat almal saam dieselfde stukkie tegnologie wil en kan gebruik.  Al sukkel jy soms met jou televisie se afstandsbeheerder of jou Nokia 3310, die iPhone is een van die mees eenvoudigste ‘gadgets’ wat jy ooit sal gebruik!

Watter kamera is die regte kamera?

Fotografie is iets waaraan ons almal blootgestel word, of jy nou daarvan hou of nie.  Met selfone wat nou beter foto’s kan neem as van die mik-en-druk-kamera’s wat te koop, is dit baie maklik om jouself ‘n fotograaf te noem.  Daar is wel kamera’s op die mark, wat gemaak is vir diegene wat daaraan dink om die wêreld van fotografie met ‘n ordentlike kamera binne te tree en ek het ‘n paar van die kamera’s gaan uitsnuffel.  Alhoewel ek ‘n groot liefhebber van Canon is, is Nikon net so goed – en dit is maar soos om te besluit tussen ‘n Mercedes en ‘n Lexus – altwee is fantasties, maar jy verkies net die een bo die ander.

Ek is self ‘n fotograaf en stap gewoonlik rond met my Canon kamera’s om my nek (die ou 400D en die 50D) – met die 5D op my lysie aan Kersvader die jaar.  Iemand het my so ‘n rukkie gelede gevra watter kamera die beste is vir iemand wat wil begin foto’s neem, en as jy so R7000 het om te spandeer is my eerste antwoord, die Canon 600D.

Die Canon 600D is die nuutste kamera in die Canon-familie met die 600D wat 17 Februarie 2011 bekendgestel is.

Die volle spesifikasies op Canon se webwerf is:

  • 18 Megapixel APS-C CMOS sensor
  • DIGIC 4 processor with ISO 100-6400 (Expansion to 12800)
  • Fully articulated 7.7cm (3.0”) 3:2 Clear View LCD with 1,040k dots
  • Full HD movie recording with manual control and selectable frame rates
  • Digital zoom in movie mode (3x – 10x)
  • New ‘Scene Intelligent Auto’ exposure mode (replacing full auto)
  • ‘Basic+’ and ‘Creative Filters’
  • Integrated wireless flash control
  • ‘Video Snapshot’ mode for the creation of multi-take movies

Dit is ‘n wonderlike, ligte kamera vir enige persoon om te gebruik.  Of jy net wil begin foto’s neem van jou nuwe baba, troeteldier of motorfiets en of jy dalk wil begin foto’s neem vir geld.  Die kamera is goed genoeg vir enige taak en met die HD video-opsie, kan ‘n mens sommer die kamera nader hark in plaas van nog ‘n video-kamera ook.

My punte-toekenning vir die kamera: 4 uit 5 (bloot net omdat ek nog die 5D op my kerslysie het).  Gaan loer gerus na van my foto’s by www.li3zel.com.

Olloclip vir jou iPhone

Apple se iPhone het fotografie met jou selfoon vir altyd verander.  Elke persoon wat met ‘n iPhone in die hand stap, is ‘n fotograaf en daar is selfs uitstallings met foto’s wat net met ‘n iPhone geneem is.

Olloclip is ‘n nuwe stukkie tegnologie wat aan die iPhone gekoppel word om nog beter foto’s te neem.  Wanneer jy ‘n Olloclip koop vir sowat $69.99, kry jy ‘n 3 verskillende lense by wat sal sorg vir ure se plesier.

Besoek Olloclip se webwerf hier vir meer inligting.