Pinterest

pinterest_SMPinterest het stadig maar seker ‘n gewilde plekkie geword vir mense om mooi goedjies te deel. Om dit eenvoudig te beskryf… Dit is basies ‘n digitale-plakboek! As ietsie vir jou mooi is, ‘pin’ jy dit op jou Pinterest-bord.

Jy kan verskillende borde skep vir verskillende onderwerpe.  ‘n Bord oor mooi woorde, mooi foto’s, mooi plekke.  Jy kan ander ‘pinners’ se foto’s her’pin’ of jou eie foto’s soek en oplaai, net soos jy op Facebook sal doen.

Ander Pinterest-gebruikers kan jou borde volg en dan weer met hulle volgers deel.

Dit is ‘n wonderlike manier om al die mooi dinge wat oor jou Internet-pad kom, op ‘n veilig plek te stoor.

Sluit nou aan by Pinterest deur sommer jou Facebook-besonderhede te gebruik, dit is baie maklik.

QR-kodes werk so

QR-kodes is tegnologie wat die internet nóg makliker toeganklik maak.  ’n QR-kode (Quick Response-kode) is ’n staafkode wat jy met jou selfoon se kamera kan skandeer.  Om dít te doen, moet jy eers ’n toepassing op jou slimfoon aflaai en oopmaak.  Elke kode is uniek en verwys jou na ’n video, foto, webwerf-adres of boodskap.

Wanneer jy ’n QR-kode in die koerant sien, moet jy jou slimfoon se QR-toepassing oopmaak en die kode skandeer om die inhoud daarvan te sien.  As die kode ’n video bevat, sal jou slimfoon se toepassing die video-skakel oopmaak en jy moet dan net die speel-knoppie druk om die video te kyk.

Dié toepassings is almal gratis:

Blackberry: QR Code Scanner

iPhone: QRReader

Android: QR Droid

Laat jou iPhone jou lei met Waze

As jy ‘n iPhone besit, is daar geen rede vir jou om nie die ongelooflike navigasie-toepassing Waze te gebruik nie.

Behalwe dat Waze soos ‘n Garmin- of TomTom-navigasiestelsel werk, gebruik dit wenke van mede-gebruikers om data te versamel en jou dan so in te lig oor moontlike probleme op jou roete.

Sodra jy jou bestemming in die toepassing insleutel, word jou roete, insluitend moontlike probleme, vir jou uitgewerk en so kan jy sien of jy dalk eerder ‘n ander roete moet volg.  Die toepassing is gratis in Apple se iTunes-winkel beskikbaar.

Wanneer jy die toepassing oopmaak, lyk hy so:

 

Hier kan jy ‘n moontlike verskeersknoop aanteken deur net op die prentjie te druk en binne sekondes sal ander gebruikers kan sien wat jy aangeteken het.

Waarom beveel ek dié toepassing aan?

  • Dit is gratis.
  • Jy sal nooit weer verdwaal nie.
  • Jy kan sien wat wag op die roete op jou nog voordat jy in die kar klim.
  • Ander gebruikers lig jou in oor moontlike probleme op jou pad.
  • Dit is baie gebruikersvriendelik.

 

Londen 2012: Jy is in beheer

Die heel eerste speletjie wat ek as ‘n klein dogtertjie op my pa se 1986 Apple Macintosh gespeel het, was die Olimpiese Spele.  Die skerm was mos net swart en groen en die mannetjies was net stokmannetjies wat verskriklik stadig gehardloop het, maar ek het elke minuut geniet.  Soms het ek op my pa se skoot gesit en speel (dit is dan wanneer hy my gehelp het om te wen).  Nou is ek lank nie meer ‘n kind nie, besit my eie rekenaar en natuurlik, die monster van videospeletjies, Sony se Plastation 3.

Groot was my opgewondenheid toe ek hoor SEGA gaan die Londen 2012 Olimpiese Spele as ‘n videospeletjie uitgee.  Minder as 24 uur nadat dit in Engeland bekendgestel is, stap ek met my kopie by my huis in, ruk die plastiek van die kassie af en kan dit amper nie vinnig genoeg in my PS3 kry.  Natuurlik is my televisie hoë-definisie en met die HDMI-kabel verskyn die mooiste beeld wat ek in ‘n baie lang tyd gesien het.

Videospeletjies soos die Londen 2012 Olimpiese Spele was nog altyd gewild en die meeste weergawes van sulke tipe speletjies moes jy verwoed die x knoppie druk om seker te maak jou atleet hardloop die vinnigste (en soms het dit regtig gevoel of jy die afstand self afgelê het).  Dit was bloot die een met die vinnigste vinger wat gewen het.  Maar hierdie weergawe is anders.  Jy moet slim wees, ritme hou en mooi dink oor wat jy moet doen.  Druk jy die knoppie te stadig, raak jy agter, druk jy hom te vinnig, verloor jou mannetjie te vinnig krag.

Jy kan deelneem aan 49 items in 13 verskillende sportsoorte.  Van duik tot swem, skiet en atletiek.  Jy kan elke item speel soos wat jy lus het, eers sal die sisteem jou wys hoe om elke item te speel en dan is dit jou beurt.  Jy kan jou gunsteling items kies en net daardie items speel of as jy ‘n paar ure het om te speel en baie braaf voel, kan jy die hele Olimpiese Spele speel – van hoek tot kant.

Die grafika is ongelooflik en iets wat ek nog nooit gesien het nie.  Die HDMI-kabel maak ‘n baie groot verskil en as jy jou televisie aan jou klanksisteem koppel, klink dit omtrent of jy self by die spele is.  Jy kan tot vier spelers op ‘n slag speel, so as jy ‘n lekker kuiertjie wil reël sal dit vir ure se pret sorg.

Teen R599 kan ek die speletjie aanbeveel aan enige PS3, rekenaar en Xbox gebruikers wat van sport-videospeletjies hou.

Voorwaar ‘n treffer met ongelooflike waarde vir geld.

Kyk hier na ‘n kort video-voorskou: